Vir meer as 58 jaar was een van die bekendste bakens in die Moot, REITZ SAAL, Reitz Stoeiklub se tuiste. Baie sweet, trane en selfs bloed, is hier gestort deur honderde stoeiers oor die jare. 'n Magdom herinneringe, tradisie en geskiedenis is vasgevang tussen die vier mure. Dit was 'n emosionele oomblik toe ons die saal se deure vir die laaste keer toetrek.
Die Capital Park Amateur Stoeiklub is in 1936 deur wyle Oom Johnnie Reitz en Wouter Dekker gestig. 'n Paar jare later verander dit na Reitz Amateur Stoeiklub. Die klub moes 'n paar keer rondtrek totdat dit uiteindelik 'n vaste tuiste gevind het in die REITZ SAAL, 506 Adcockstraat, Gezina. Die saal was amptelik geopen in 1967 en was Reitz Stoeiklub se tuiste tot September 2025. Dit was vir 'n paar jaar wat ons besef het ons sal moet skuif, maar dit was 'n groot stap toe dit 'n werklikheid geword het. Op daardie stadium was daar nog geen finale planne op die tafel vir Reitzklub se toekoms nie.
Met groot genade en gebed het dinge begin gebeur. Ons het tydelike huisvesting by die Nederduits Hervormde Kerk, Villieria, vir 'n paar maande gekry. Gesprekke met Oos-Moot Skool het begin gebeur en stadig maar seker het 'n droom vorm begin aanneem van 'n nuwe tuiste.
Reitz Stoeiklub is vanjaar 90 jaar oud. Ons het die besondere geleentheid gevier op 16 Mei 2026 met die REITZ 90th OPEN CHAMPIONSHIPS. Meer as 412 inskrywings in ontvang. Ons was vereer met oud-springbokke, SA Kampioene, stoeiers en ander lede van die klub wat oor die jare deel was, en steeds is,van die Reitzfamilie. Hierdie was beslis 'n gebeutenis wat nou deel vorm van 'n merkwaardige geskiedenis.
Reitz Stoeiklub het op Saterdag 11 Julie 2026 ingetrek is die nuwe stoeisaal op Oos-Moot se gronde. Die eerste oefenaand was op reeds op die Dinsdag 14 Julie. 'n Nuwe era het aangebreek vir Reitz Stoeiklub. Dit was moontlik gemaak deur mense wat passievol is oor stoei, maar ook 'n diepgewortelde verbintenis met Reitzklub het.
Daar heers groot opgewondenheid, daar is groot entoesiasme en ons glo Reitz Stoeiklub is gereed vir die volgende 90 jaar!
|